Oproep om bydraes: Spesiale uitgawe van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie
Sperdatum vir aanlynvoorlegging: 30 April 2016
Gasredakteur: Prof. Dr. B.A. Senekal
Die snelle ontwikkeling van tegnologie die afgelope twee dekades het die samelewing onherroeplik verander, insluitend natuurlik die akademikus se beroep. In die navorsingskomponent van die akademikus se beroep speel tegnologie toenemend ʼn groot rol, met ontwikkelinge in rekenaarprogrammatuur wat nuwe soorte ontleding met behulp van groter datastelle bemiddel, dataversameling self op ʼn groter skaal kan laat plaasvind, bevindinge op nuwe maniere met behulp van visualisering kan laat oordra en die ontwikkeling van apparatuur met behulp van nuwe navorsing kan bemiddel. Bronmateriaal word ook vinniger opgespoor deur van digitale databasisse en Google Scholar gebruik te maak. Die beskikbaarheid van groter datastelle en die vermoë om hierdie datastelle te ontleed lei volgens sommige kommentators daartoe dat ons tans op die rand van ʼn paradigmaskuif in die wetenskap staan, wat beteken dat tegnologie ook ʼn impak op wetenskapsfilosofie het.